Die Domste Kind in die Wêreld

Die Domste Kind in die Wêreld

 

1 Korinthiërs 1:27 Maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam;

 

Eenkeer het ek die volgende storie gelees en het ‘n groot les daaruit geleer:

 

Daar was hierdie man, ‘n haarkapper wat ‘n man se hare gesny het, wat gesien het hoe ‘n seun sy winkel nader. “Sien jy daardie kind?” het hy vir sy kliënt gevra. “Hy is die domste kind in die wêreld! Hou dop wat gebeur wanneer hy hier inkom.”

 

Die deur het oopgegaan en die kind het die winkel binne gekom. “Goeie more meneer” het die kind gegroet. “Goeie more vir jou ook” het die haarkapper geantwoord, “Wil jy weer ons speletjie speel?”

 

“Ja ek wil!” het die seun opgewonde geantwoord.

 

Die haarkapper fluister aan sy kliënt, “Hou hierdie dop.” Hy sit ‘n R20 noot in sy een hand en twee R5 muntstukke in die ander hand en vra die kind; “Watter van hierdie wil jy hê?”

 

Die kind kyk na die R20 noot en dan na die twee R5 muntsukke. Na ‘n oomblik glimlag hy, neem die twee muntskukke en met ‘n “dankie meneer” is hy by die deur uit.

 

“Wat het ek jou gesê?” vra die haarkapper aan sy kliënt. “Daardie kind is dommer as enigiets wat ek al gesien het. Hy doen dit elke keer as hy hier inkom.”

 

‘n Rukkie later stap die kliënt by die haarkapper uit en sien die kind by ‘n kafee, waar hy lekkers gekoop het, uitstap. “Seun” roep hy, “waarom het jy nie die R20 noot gevat nie?”

 

Die seun het met ‘n skewe glimlag opgekyk en geantwoord; “Meneer, die dag wanneer ek die R20 noot vat, is die speletjie verby!”

 

Dit draai toe uit dat die haarkapper dommer was as die domste kind in die wêreld! En dit is waar met soveel ander.

 

Jesus sê in Luk 10:21 Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het. Ja, Vader, want so was dit u welbehae.Kom ons kies om soos die seun in die storie te word. Dan kan God Sy wysheid aan ons openbaar.

 

Moet nie moedeloos raak wanneer geestelike wyse en verstandige mense jou dom of ‘n baba Christen noem nie. Die Apostel Paulus skryf die volgende aan Timótheüs; “Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ‘n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid.1 Tim 4:12. Die wysheid van God sal aan jou openbaar word.

 

“Here Jesus, U het kinders as voorbeeld in U leringe gebruik omdat kinders nie hulle vaders betwyfel nie. Ek wil soos ‘n kind voor U wees. Help my asseblief om U nie te betwyfel nie en gebruik my as voorbeeld teenoor die mense rondom my. Amen.”