Die Pot vol Kokende Suur

Die Pot vol Kokende Suur

 

Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie. In die droom, in ‘n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle; om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg; sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie.”

Job 33:14 – 18

 

Ek het eenkeer gelees van iemand wat die volgende droom gehad het: “In ‘n droom het ek ‘n engel sien staan met ‘n groot pot in sy hande. Die pot was gevul met wat soos kokende suur gelyk het. ‘n Man het voor die engel kom staan en die engel het begin om die kokende suur op die man se hoof uit te gooi!

 

“Wat doen jy?! Het ek uitgeroep.

 

Die engel het voortgegaan terwyl hy na my kyk en met ‘n somber stem sê, “Hierdie is die vloeke waarmee hy ander vervloek het. Dit word nou op sy hoof uitgegiet!”

 

Die gesig was so skokkend en skrikwekkend dat ek wakker geword het en stil in my bed gelê het. Is hierdie man miskien ek?, het ek gewonder en dadelik almal waaraan ek kon dink, begin seën!

 

Volgende wonder ek of dit wat ek in die droom gesien het, waar kon wees. Dit was dan sô wreed en verdoemend. En tog was daar sô ‘n ontnugterende gevoel van Goddelike geregtigheid daarmee saam. Ek het dadelik opgestaan en die Skrifte begin ondersoek op soek na ‘n antwoord. My soektog was nie vrugteloos nie. Ja, hy het die vloek liefgehad en—dit het oor hom gekom; en hy het geen welbehae gehad in die seën nie en—dit het ver van hom af gebly. Hy het die vloek aangetrek soos ‘n kleed en—dit het soos water in sy binneste gekom en soos olie in sy gebeente.Ps 109:17 & 18.”

 

Wat is die les wat Vader ons leer? Die persoon wat ander vloek en vervloek, sal self vervloek word! Jesus sê: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.Matt 7:1 & 2.

 

Soos dit of vloeke van toepassing is, is dit ook op seëninge van toepassing. Hy wat ander seën sal self ook geseënd wees. Met watter mate jy meet sal daar ook vir jou gemeet word. In ‘n ander teks sê Jesus Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg;” Matt 5:44.

 

Kan dit wees dat die seën wat ons uitspreek teenoor die wat ons vervloek ten doel het om ons daarvan te weerhou om onsself te vervloek? Ek dink so. Hoe ontnugterend om te dink dat vloeke wat ek teenoor ander uitspreek eintlik teen myself gerig is! Kyk na die bevestiging in Spr 26:2 Soos die voëltjie wegfladder, soos die swaweltjie wegvlieg, so is ‘n vervloeking sonder oorsaak: dit kom nie uit nie.Waarheen vlieg die swaweltjie weg? Terug na sy eie nes toe!

 

Maar dan, hoe wonderlik om te glo en te weet dat deur ander te seën, ontvang ek sélf ook die seëning! Ten spyte van die vreeslike beelde van hierdie droom, is daar een ding seker, sedert ek hierdie les geleer en die waarskuwing ontvang het, is ek baie versigtig met my woorde!

 

Ék en mý huis, ons sal ander seën, dat ons ook seëninge kan beërwe.

 

“ABBA Vader, ek dank U vir hierdie les. Here ek bely dat ek mense vervloek het en negatief oor hulle gespreek het. Vergewe my asseblief. Here help my van vandag af om te seën en dankie dat ek weet, omdat ek seëninge uit liefde uitspreek, sal ek ook geseënd wees. Ek vra die in die Naam van Jesus Christus. Amen.”