Die Spoed van die HERE

DIE SPOED VAN DIE HERE

 

Het jy al gewonder wat die spoed is waarteen God beweeg? Stap Hy of hardloop Hy of vlieg Hy? Kyk na Genesis 3:8 “En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; …” God het gewandel in die aandwindjie. In Engels is daar ‘n beskrywende word – STROLL. Stadig gestap.

 

Kyk wat sê God aan Abram in Genesis 17:1 “Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.” Abram moes voor God wandel, stadig stap, om opreg te wees.

 

As ek wandel in die natuur of in die tuin sien ek soveel meer dinge raak. Ek spandeer tyd om te kyk en so sien ek soveel interessante dinge. Net so in my lewe met God, As ek saam met Hom wandel sal ek soveel meer sien en leer. Ek sal Sy fluistering kan hoor! Jesaja 30: 21 sal vir my ook wees: “en jou ore sal ‘n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.” Ek sal daardie sagte stem van die Heilige Gees kan hoor in moeilike en gevaarlike situasies.

 

Kyk hoe vêr gaan God om ons te help om te kan wandel! Esegiël 36:27 “En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” HY gee aan ons die Heilige Gees om ons te kan help om voor Hom te wandel! So al weet ek nie hoe om te wandel nie, al is my lewe so gejaagd, die Heilige Gees sal my help. Ek moet dit net toelaat.

 

Verder sal die Heilige Gees my ook help deur begeerlikhede en versoekings, as ek wandel. Galasiërs 5:16 “Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;” So weereens; ek moet deur die Gees wandel om in hierdie oorwinnig te kom.

 

“ABBA Vader, ek vra in die Naam van Jesus Christus dat U my sal leer om voor U te wandel. Help my asseblief om rondom my te kyk en te sien wat U vir my wil leer en om U stem te hoor as ek van die pad wil afdwaal. Dankie dat U dit alles vir my deur U Gees doen. Amen”