Die Wonderwerk in Jou Hand

Die Wonderwerk in Jou Hand

 

Eksodus 4:2 “Daarop vra die HERE vir hom: Wat is daar in jou hand? En hy antwoord: ‘n Staf.

 

Een ding wat uit staan oor die vroeë volgelinge van Jesus is dat hulle gewone mense was, wat gewone dinge gedoen het maar buitengewone resultate gesien het. Een van die beste bewys hiervan was toe ‘n jong seun sy kleinete aan Jesus gegee het. Wat hierna gebeur het is ‘n wonderwerk wat tot vandag bespreek word, ‘n skare is gevoed met twee vissies en vyf broodjies.

 

Mat 14:15 – 20 En toe dit aand geword het, kom sy dissipels na Hom en sê: Die plek is verlate, en dit is al oor die tyd; stuur die skare weg, sodat hulle na die dorpe kan gaan en vir hulle voedsel koop. Maar Jesus sê vir hulle: Hulle hoef nie weg te gaan nie; gee julle vir hulle iets om te eet. Maar hulle antwoord Hom: Ons het hier net vyf brode en twee visse. En Hy sê: Bring dit hier vir My. Toe gee Hy die skare bevel om op die gras te gaan sit; en Hy neem die vyf brode en die twee visse, kyk op na die hemel en dank; en nadat Hy die brode gebreek het, gee Hy dit aan die dissipels en die dissipels aan die skare. En almal het geëet en versadig geword, en hulle het die oorskot van die brokstukke opgetel, twaalf mandjies vol.

 

Daar is vyf groot lesse wat ons uit hierdie wonderwerk kan leer.

 

Eerstens, moet nooit God se vermoë om behoeftes te vervul onderskat nie. Hierdie plek was verlate, dit was al laat, daar was baie mense en daar was ‘n groot behoefte. Jesus het nie net die behoefte vervul nie, Hy het dit in oorvloed gedoen en Hy kan vandag in jou behoefte voorsien.

 

Tweedens, moet nie jouself minderwaardig ag en buite rekening laat wanneer God begin werk nie. ‘n Man draai na sy vrou, terwyl hy kyk na nuus oor siektes, hongersnood, armoede en harsteer in die wêreld, en sê; “Soms wil ek net vir God vra waarom Hy nie iets hieraan doen nie!” “Wat verhinder jou om Hom te vra?” antwoord sy vrou. “Want” sê die man, “Ek is bang dat Hy vir my dieselfde vra.”

 

Jesus het die broodjies en vissies aan die dissipels gegee en hulle weer aan die skare. Met ander woorde, die wonderwerk het in húlle hande gebeur, terwyl hulle die kos aan die mense uitdeel. Daar is ook ‘n wonderwerk in jóu hande!!

 

Derdens, moet nooit aanvaar dat dit wat jy het onbenullig is nie. ‘n Seun met sy kospakkie van vyf brode en twee visse – is al wat nodig was! Een dissipel het moontlik gevra; “Hoe kan hierdie genoeg wees?” Dit is tragies hoeveel mense hulleself en dit wat hulle het, onbenullig ag net omdat hulle nie waardig voel in so ‘n oomblik nie.

 

Vierdens, moet nooit dink dat Hy jou behoeftes sal verby gaan terwyl jy gebruik word om in ander se behoeftes te voorsien nie. Die Bybel sê dat almal geëet en versadig geword het. En die dissipels? Hulle het dit wat oorgebly het opgetel, twaalf mandjies vol. Een mandjie vol vir elkeen! Jou diens aan Hom sal nie ongesiens verby gaan nie, ook nie onbeantwoord nie.

 

Laastens, moet nie vashou aan dit wat God van jou vra nie. Wat sou gebeur het as die seun vasgehou het aan sy ete? Wel, net hy sou ‘n ete gehad het en niemand anders nie. Maar deur sy ete aan God te gee het Jesus hierdie seun in die geskiedenis vasgemaak.

 

Nou vra Jesus vir jou; “Wat het jy?. “Bring dit vir My.” Jou geskiedenis sal jou antwoord bevestig.

 

“Here Jesus, soos Moses net ‘n staf gehad het en die seun nie sy middag ete en U dit gebruik het om groot wonderwerke te doen en in behoeftes te vervul, bring ek dit wat ék het vandag na U. Gebruik dit asseblief om in ander se behoeftes te voorsien en ook in myne. Amen.”