Geloof

GELOOF

Tydens gesprekke vra ek so baie mense: “Waarheen gaan jy as jy sterf?” en baie antwoord my “hemel toe, natuurlik!” Dan vra ek “waarom sê jy so?” en dan kom daar ‘n hele verskeidenheid van antwoorde. Die mees algemene een is “want ek glo”.

 

As ek dan verwys na Jak 2:19 “Jy glo dat God één is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook, en hulle sidder”  is baie skielik nie meer so seker nie. Jy sien, ek moet weet wat ek glo, en nie net in die algemeen glo nie. Ek moet ook weet wat geloof is.

 

Nou wat moet ek glo? Rom 10:9 & 10 sê  “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”

 

Ek moet glo dat Jesus Christus vir mý aarde toe gekom het, vir mý sonde aan die kruis gehang het en gesterf het en dat God die Vader Hom uit die dood opgewek het én ek moet dit hardop voor iemand bely. Iemand wat ‘n getuie saam met my kan wees wanneer die leuens van Satan kom en my wil oortuig dat ek nie ‘n kind van God is nie.

 

Nou wat is geloof dan en wat doen geloof? Kom ons kyk na ‘n geloofsman uit die verlede – Abraham. Die Here praat met Abraham en sê in Gen 12:1 – 3  “En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.”

 

Omdat Abraham God geglo en vertrou het, trek hy. Hy was bereid om uit sy gemak sone te trek, soos daar soms ook van my en jou verwag word om uit my gemak sone te gaan. Kyk na die belofte wat God aan Abraham gee; omdat jy bereid is om My te glo, My te vertrou en My te gehoorsaam, sal Ek jou ‘n groot nasie maak én jy sal ‘n seën wees.

 

Ons lees in Gen 15:5 & 6 “Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.”  Abraham se gelóóf in die Here het hom geregtig voor God gemaak, niks anders nie.

 

As gevolg van hierdie geloof en sy geregtigheid voor God, gaan die Here ‘n verbond aan met Abraham. In Gen 15 lees ons hieroor. Verse 9 & 10 “En Hy antwoord hom: Neem vir My ‘n driejaaroud vers en ‘n driejaaroud bokooi en ‘n driejaaroud ram en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. En hy het dit alles vir Hom gebring en dit middeldeur gedeel en die helftes teenoor mekaar gelê; maar die voëls het hy nie verdeel nie.” 

 

Nou waarom die diere en duiwe? In díe tye het die verdeling van die diere verwys na die twee partye wat die verbond aangaan en die bloed was die getuie tot die verbond. Dit het ook verklaar dat beide partye toestemming gee, dat indien een die verbond sou verbreek, hy ook so verdeel kan word. ‘n Verbond was en is ‘n baie ernstige saak, een wat ‘n lewe as prys het. In verse 17 & 18 word hierdie verbond gesluit. Daar staan geskrywe: “En ná sononder, toe dit heeltemal donker was, gaan daar ‘n rokende oond en vurige fakkel tussen dié stukke vleis deur. Op dié dag het die HERE met Abram ‘n verbond gesluit”  Let daarop dat God hierdie verbond eensydig aangaan, Hy onderwerp hom eensydig hieraan, Abraham het nie nodig om die prys te betaal nie, hy ontvang egter al die voorregte van die verbond. Waarom? Omdat hy geglo het en daardeur geregtig was voor God! (Gen 15:6 hierbo)

 

Kom ons kyk na die effek van geloof. Rom 14:23  “…en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.”  So geloof bepaal wat is sonde of nie. En voordat die argument gebruik word dat ek sus of so glo en dit ‘n bepaalde lewenswyse, argument of siening regverdig, hier praat ons van die geloof in Jesus Christus, die seun van God, en na Sy opdragte en verwagtings soos aangeteken in die Bybel. So alles moet onderwerp word aan Sy opdrag.

 

Kom ons kyk hoe die verbond wat God met Abraham aangegaan het, vir my en jou beïnvloed. In Gal 3:7-9 is geskrywe: “Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.”  Die Skrif waarna hier verwys word is Jesus Christus, want Hy is die Woord. Reeds met hierdie verbond het Jesus sigbaar verklaar dat Hy bereid is om die eensydige prys te betaal, AL HET HY NIE DIE VERBOND VERBREEK NIE!!!!!

 

Nou wat is geloof dan? Rom 10:17 gee die antwoord: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God.”  So uit die luister, wat onderwerping insluit, van die Woord van God kom geloof. Nou watter God dan? Die een wat beskryf word in 1 Joh 5:7 “Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een.”  Hierdie is die enigste waaragtige en lewende God, al die ander is afgode!!! Heb 11: 1 sê: “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.”  ‘n Vaste vertroue sê die Bybel. Nie ‘n wankelende, miskien eendag seining nie. Jy sien, ek kan nie met twyfel voor God staan nie. God is ‘n beloner en as ek my beloning wil ontvang moet ek op Sy voorwaardes na Hom gaan. Sy voorwaardes is as volg: Heb 11:6 “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”  So ek moet God behaag deur geloof, ek moet Hom vertrou en ook glo dat Hy ‘n beloner is. Ek vra; hoe vêr is ons bereid om God te vertrou? Wanneer vat ek dit wat ek Hom voor vertrou weer terug en prober self verder?

 

Ps 118:8 sê: “Dit is beter om by die HERE te skuil as om op mense te vertrou,”  en ook Jer 39:18  “Want Ek sal jou sekerlik laat vryraak, en jy sal deur die swaard nie val nie; maar jou siel sal vir jou ‘n buit wees, omdat jy op My vertrou het, spreek die HERE.” Kom ons maak vandag die keuse om God te vertrou vir wat Hy is. Kom ons kies ook om ag te gee op Sy waarskuwings soos onder andere 1Tim 6:17  “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet.”  Abraham was ook ‘n wel-af, ryk man. Soos ons egter gesien het was sy fokus op God en net op God.

 

Nou kry ek so baie keer die volgende argument; Ja maar Cobus jy het baie meer geloof as ek, jou geloof is soveel sterker as myne. Kom ons kyk hoeveel geloof ons nodig het. Ek lees in Mat 17:20, waar Jesus aan die woord is, die volgende: “…voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het soos ‘n mosterdsaad sal julle vir hierdie berg sê: Gaan weg hiervandaan daarnatoe! en hy sal weggaan, en niks sal vir julle onmoontlik wees nie.”  Geloof soos ‘n mosterdsaad en daarmee saam die vaste vertroue dat God kan!

 

Geloof is my skild en my beskerming. Efes 6:16 praat hiervan: “Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.”  Sonder die skild van geloof is ek ‘n oop teiken.

 

Liewe leser, kom ons draai vandag terug na God, aanvaar Hom as die enigste ware God en vertrou Hom in alles.

 

 “VADER, ek kom staan voor U in die naam van Jesus Christus. Ek kies om vandag te bely dat ek glo dat Jesus Christus vir my gesterf het, U Hom uit die dood opgewek het en dat Hy U seun is. Ek aanvaar Hom as my enigste Verlosser en Saligmaker. Here Jesus, help my asb om te kan glo soos Abraham geglo het, om U onvoorwaardelik te kan vertrou in alle omstandighede. Ek bely dat ek soveel kere geval het, maar vandag wil ek opstaan in U krag. Dankie dat ek weet dat U my help deur U Heilige Gees. Amen”

 

 Ek vertrou dat Vader saad in jou gees deponeer en dat jy ‘n geloof oes sal dra.

 

Cobus van Heerden