GOD se Tafel

GOD SE TAFEL

Vrede vir jou,

Gedurende die tweede wêreldoorlog, tydens die inval van die Gealliëerdes in Normandië, was daar ‘n geweldige verlies aan lewens aan die kant van die Gealliëerdes. Die Duitse magte het ‘n inval verwag maar het dit op ‘n ander plek verwag. Daar was wel Duitse magte ontplooi maar koste aan Gealiëerde lewens moes nie so hoog wees nie. Wat het skeef geloop? Die Gealiëerde magte was baie goed voorbereid en hoogs opgelei om hulle wapens te kon aanwend vir die doel wat dit voor gemaak was. So, waarom het soveel duisende hoogs opgeleide soldate hulle lewens verloor?

Die generaals kon nie die menslike element in hierdie situasie akkuraat voorspel nie. Hulle soldate was wel hoogs opgelei maar het, ten spyte van hulle opleiding, as mense in die geveg ingegaan. Navorsing het bewys dat slegs een uit elke vyf soldate hulle wapens afgevuur het. Die “mens” in hulle was nie gereed nie en het “gevries”. Al die opleiding en voorbereiding was nie genoeg om hulle effektief te laat funksioneer in hulle opgelegte taak nie. Daar het dus vier uit elke vyf soldate nie eers teen die vyand opgetree nie, wat nog van oorwin.

Ons is daagliks in ‘n geestelike oorlog betrokke. As jy een van die is wat dink dat geestelike oorlogvoering ‘n mite is of nie op jou van toepassing is nie, word wakker!!

Jy is soos een van die vier uit vyf soldate hierbo wat nie eers ‘n skoot afgetrek het nie en soos hulle, sal die vyand jou ook uit die pad vee. Hulle het niks beteken in die gevegsituasie nie en jy sal ook nie. Soveel kinders van God se wapens is kragteloos en nutteloos want ons kies om dit nie te gebruik nie. In die uur van beproewing en versoeking gee ons boedel oor en word as gevangenis weggeneem. Die Woord van God sê daarenteen in Jakobus 4:7: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle af wegvlug.” As jy die duiwel teestaan moet hy vlug. Waarom is dit in baie van ons lewens net andersom? Hoekom vuur so min Christene hulle wapens af?

In Psalm 23:5 sê Dawid: “U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor.” As daar nou ‘n man uit die Bybelgeskiedenis was wat oorlogvoering verstaan het, was dit sekerlik Dawid.

Kom ons kyk ‘n bietjie na wat hy hier sê. “U berei die tafel voor my aangesig” God berei vir jou ‘n feesmaal. Hy bedien jou. Hy voorsien aan jou voedsel en daardeur krag. Aan tafel kan jy lekker ontspan en dit geniet wat voorgesit word. Daar is baie moeite en liefde in die hele proses van tafeldek, voorbereiding van die kos en die bediening daarvan in. Jy sit aan tafel, God bedien jou en jy geniet!

teenoor my teëstanders”. Waar is die feestafel van God? “In the presence of my enemies” sê die Engelse Bybel. Dit lyk vir my of hierdie tafel is waar jy die vyand in sy oë kan kyk. As ons kyk na ‘n gevegsituasie is hierdie tafel in die voorste linie. So naby aan die vyand dat ‘n geweer oneffektief is, so naby dat jy nie handgranate kan gebruik nie, jy kan nie lugsteun inroep om bomme te gooi nie en ook nie kanonvuur nie. Jy is so naby aan jou vyand dat jy met messe en kortafstand wapens moet veg. Dit is híer waar God jou wil bederf met ‘n feesmaal. Kan jy híerdie feesmaal geniet in die bevelsbunker, of in die kamp, of terug in jou gemaksone? Nee, hierdie feesmaal en bederf van God is bestem vir die gevegs linie. Daar waar mense seerkry en ander sterf. Jy kan kies, wil jy deel hê aan God se fees, of nie? As jy wil, sorg dat jy in die gevegslyn kom. Dit is ál plek waar die tafel voorberei word.

U maak my hoof vet met olie”. As jou hoof vetgemaak is met olie, in die Bybelse tyd, beteken dit dat jy gesalf is. Om gesalf te wees beteken om bekragtig te wees. God wil jou aan hierdie tafel bekragtig om die duiwel te kan teëstaan sodat jy die oorwinning kan behaal. Wie is die persoon waarom dit gaan nadat ‘n geveg verby is en oorwinning behaal is? Die bevelvoerder natuurlik! In die bybelse tyd was die generaal gewoonlik die koning. So behalwe die feit dat God jou aan hierdie tafel wil bekragtig wil hy jou ook salf en aanstel as koning. ‘n Koning het gesag of outoriteit. God gee ook hier Sy gesag en outoriteit oor aan jou. Sy gesag om outoriteit te neem oor jou situasie, oor die aanvalle op jou en jou gesin, oor die kragte van die satan én om dit te verbreek en nietig te verklaar.

my beker loop oor”. God voorsien vir my. God het my bevorder van ‘n soldaat na ‘n koning. God het my herstel in die posisie waarvoor Hy my geskape het. Jesus sê in Openbaring 1:6:”En ons gemaak het konings en priesters vir Sy God en Vader”. Hy bevestig dit ook in Openbaring 5:10: “En het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.” As hierdie tekse vir jou ‘n realiteit is, sál jou beker oorloop. Dit gebeur egter eers nádat jy aan die tafel aangesit het. Die woorde van Jakobus maak ook nou sin toe hy sê in Jakobus 1:2: “Ag dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in alllerhande versoekinge val.

Ons kan nou uitstap met die wete dat ons nie hoef te vrees vir beproewinge nie. As dit oor jou pad kom, weet dat bevordering naby is!!

Kom ons kyk na die verhaal van Dawid en na die beproewing waaraan hy blootgestel is. God het Samuel opdrag gegee om Dawid as koning te salf. (1 Samuel 16:1-13). As die gesalfde, is Dawid deur sy pa gestuur om kos vir sy broers te neem, wat saam met Saul geveg het teen die Filistyne soos opgeteken in 1 Samuel 17. Hier het hy gehoor wat die vyand, Goliat, vir die leer van Israel skreeu en hy het ook die vrees gesien wat Goliat deur sy postuur en woorde by die leer van Israel inboesem. Goliat was langer as 3 meter en Dawid ‘n jong seun. As hierdie geweldige houding en postuur van Goliat soveel vrees by die geharde soldate van Israel ingeboesem het, hou moes Dawid gevoel het?

Wat het Dawid egter gedoen? Hy het nie in vrees weggekruip en gebewe onder die woorde wat Goliat geskreeu het nie. Nee, hy het die uitdaging aanvaar! Nadat hy die swaar wapentuig neergelê het, wat Saul aan hom gegee het, het Dawid na die spruit gegaan, vyf gladde klippe opgetel en Goliat tegemoet gegaan. Wat daar gebeur het weet ons almal. Dawid het, nadat Goliat neergeslaan het, die swaard van Goliat geneem en sy kop afgekap. (1 Samuel 17:51). Die wapen wat die vyand gebruik het om Dawid mee te bedreig is afgeneem en het in die hand van die kryger van God, die oorwinning vir die kryger van God bewerk.

Hierdie oorwinning vir die godsman, Dawid, het gekom nadat hy gesalf is en God vir hom ‘n tafel voorberei het teenoor sy teëstander. As Dawid nie in die aangesig van Goliat was nie, kon God nie die oorwinning bewerkstellig nie. Ek verwys jou na dit wat ek hierbo gesê het oor Psalm 23.

Dieselfde beginsel is toegepas deur Jesus. Satan het Hom aangeval vanaf die tuin van Getsémané tot op Golgota met die wapen van die dood. Hy, Jesus, het gesterf en het neergedaal na die hel waar Hy satan, en die dood, oorwin het deur uit die dood op te staan. Daardeur het hy die sleutels van die doderyk afgeneem en het die dood, en satan, ‘n voetbank onder sy voete gemaak. Hy verwag van ons om ook die vyand te oorwin in ons lewens op dieselfde beginsels. Neem sy wapens af en verslaan hom daarmee.

Jesus sê in Johannes 15:20: “As hulle My vervolg het, sál hulle julle ook vervolg”. Verder vertel Hy die volgende, van die wat van Hom afhanklik en standvastig is,

in Lukas 6:48 (Amplified Bible): “He is like a man building a house, who dug and went down deep and laid a foundation upon a rock; and when a flood arose, the torrent broke against that house and could not shake or move it, because it had been securely built or founded on a rock”. Hy praat hier van storms wat gekom het en die huis beproef het.

In Efesiërs 6:11 sê Paulus die volgende: “Put on God’s whole armor [the armor of a heavy-armed soldier which God supplies], that you may be able successfully to stand up against [all] the strategies and the deceits of the devil”.Jesus sê ook verder in Johannes 15:18: “As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het”. Hierdie is net verdere bevestiging van aanslae wat sál kom.

Ons sál die aanslae oorwin deur ons te anker op die rots Jesus Christus, deur Sy wapenrusting op te neem en om standvastig te bly in ons oortuiging. Op die tjek wat Jesus in Sy bloed uitgeskryf het om jou te koop staan daar geskryf “NOT NEGOTIABLE”. Staan dieselfde op jou lewenstjek aan Hom, of máák jy kompromieë met die wereld.

Ek wil die volgende uitdaging aan jou stel! Kom ons hou op om weg te hardloop as beproewinge oor ons pad kom. As jy jou outoriteit in Christus opneem, die duiwel teestaan en die wapen waarmee hy jou aanval afneem, dit teen hom te gebruik, sal Christus jou die oorwinning gee.

Ek wil jou nooi om die volgende gebed saam met my te bid en om dan op te staan vir Jesus:

“Ek kom opnuut aanmeld vir diens, Here,

ek bring myself dat U my kan gebruik. 

Here, God van my vaders,

Wys my hoe ek U volk moet lei. 

Gee my die wysheid om te doen wat ek moet,

Die insig om te sien wat moontlik is,

En help my om my eie tekortkominge te aanvaar. 

Leer my om my plek in U groot plan te verstaan. 

Amen 

My gebed vir jou is dat ons hemelse Pa jou tafel sal voorberei en dat jy by Sy tafel sal aansit, Sy bediening sal geniet en met die krag wat jy deur Sy “voedsel” ontvang, die wapens van satan wat teen jou opgerig word sal afneem en jy in die naam van Jesus Christus jou vyand sal oorwin met sy eie wapens.

Die Here seën jou.

Die Here sal sy aangesig oor jou laat skyn.

Die Here sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.

Die naam van die Here is oor jou uitgeroep!!

 

Cobus van Heerden