My Huwelik – Is ons een?

MY HUWELIK, IS ONS EEN?

 

My vriend / vriendin,

 

Mag die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, met jou wees.

 

Mag ek jou ‘n persoonlike vraag vra? Dink asseblief diep na voor jy antwoord.

 

Hoe gesond is jou huwelik? Het jy al ooit gewonder, waarheen is die drome wat ons as verloofdes gehad het? Dinge soos; ons verhouding is spesiaal en ons sal nie dieselfde paadjie as ander loop nie; daar is niks wat ons vir mekaar sal wegsteek nie; ons sal dinge uitpraat voordat dit probleme word; ons liefde sal alle dinge wat die lewe na ons gooi, oorwin; en hoeveel ander dinge nog?

 

Dan op ‘n dag staar die realiteit ons in die oë! Ons het uitmekaar gedryf en het niks meer vir mekaar te sê nie. Ek is nog lief vir my maat maar ons lewe by mekaar verby. Dit voel of ek alleen in hierdie verhouding staan en iewers het ek my vrou / man en kinders verloor. Ons lewe as vreemdelinge in dieselfde huis. Dan kom die volgende vraag op: “Moet ons nie maar op ons eie paaie gaan en skei nie?”

 

Het jy al hiermee gestoei? Miskien het jou huwelik reeds misluk of is jy op die punt om handdoek in te gooi. Wil jy graag die dinge wat verkeerd is regmaak maar weet nie hoe nie?

 

God sê in Kolosense 3:19 aan die mans: “Manne julle moet julle vroue liefhê en nie teenoor hulle verbitter word nie” en in Kolosense 3:18 aan die vroue: “Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die HERE”. Hoekom faal ons so in hierdie opdrag? Is dit dan so moeilik om uit te voer? Nee my liewe vriend / vriendin. As jy dit glo, glo jy die leuen van satan! Kom ons gaan kyk na hoe God jou as mens geskape het en hoe ons elkeen optree in sekere situasies.

 

Elkeen van ons het ‘n sekere vasgestelde manier van dink, optree in sekere situasies, hoe ons reageer onder druk en wat ons uitkyk op die lewe is. Hierdie is hoe God jou gemaak het en jy kan dit nie verander nie. Wat ons egter ‘n invloed oor het, is hoe ander ons ervaar! Weet jy dat slegs 20% van wat jy sê bestaan uit woorde? Die res sê jy uit jou liggaamshouding, stemtoon, die kyk in jou oë, ensovoorts. Hoeveel keer het dit al met jou gebeur dat jy iets sê en dit as iets heeltemal anders ervaar word? As ons hieroor beheer kan kry sal dit al klaar beter gaan, of hoe?

 

Almal van ons val in een van vier groepe. Ons moet eers bepaal in watter groep jy val en waarom jy optree soos jy doen.

 

Onthou asseblief. Daar is nie een groep wat beter as ‘n ander is nie! Elkeen het sy sterk punte en ook sy swak punte. Jy kan jou nie verander nie want God het jou so gemaak! Jy kan wel dit hoe mense jou ervaar verander en positiewe resultate daaruit verkry.

 

Kom ons kyk na die eerste groep. Hierdie is mense wat weet wat hulle uit die lewe wil hê. Die eind resultaat. Hulle gee nie om hoe hulle daar uitkom nie solank dit net gebeur. Hulle raak geïriteerd met detail. As hulle gesels gaan dit oor feite. Algemene gemoedelike gesprekke kan hulle irriteer. Tyd is vir hulle belangrik en hulle tyd is beplan. Hulle het ‘n baie sterk persoonlikheid en kom domineerend voor. Omdat hierdie persoon volgens ‘n plan werk is dinge georden om hom / haar. Hy of sy wil altyd reg wees en sal vinnig ‘n besluit neem en ‘n risiko neem. Hierdie persoon se liggaamshouding kom “aggresief” voor. Hy / sy gebruik min handgebare maar as dit gebeur is dit direkte gebare, die wys van ‘n vinger, ensovoorts. In ‘n gesprek of argument leun hy / sy ook vooroor en sal sy / haar hande voor hom / haar op ‘n tafel of lessenaar hou (as julle om ‘n tafel sit en gesels natuurlik). Hierdie persoon wil in beheer wees en hou van formaliteit. Die tipe mense is ook baie kompeterend. Hierdie groep noem ons: “Drywers”.

 

Ons tweede groep mense wil ook altyd reg wees en hou van formaliteit. Dit is ook doelgerigte mense maar hulle het baie detail en tyd nodig voor hulle besluit. Hulle sal nie sommer ‘n kans vat nie. As jy byvoorbeeld met hulle oor geld praat sal hulle die bedrag tot op die sent noem. Tyd is vir hulle baie belangrik en hulle werk ook volgens ‘n plan. Hulle wys nie juis emosie op hulle gesig nie en hulle stemtoon is monotoon. Hulle is nie baie kommunikerend nie maar gee volle samewerking as hulle iets gevra word. Hulle liggaamshouding, soos die drywer, is vooroor en handgebare is beperk. As daar handgebare is sal dit ook direkte gebare wees. Hierdie groep mense word as “Analities” beskou.

 

Die derde groep noem ons die “Innemende” groep. Hierdie is mens mense. Vir hulle is sekuriteit baie belangrik in enige situasie. Dit maak nie saak of dit persoonlike sekuriteit of sekuriteit vir ‘n groep is nie. Hulle sal nie ‘n besluit neem as hulle nie veilig voel daarmee nie. Anders as die drywers en analitiese mense het die innemende mense ‘n ontspanne liggamshouding en is nie so streng met dissipline nie. Jy sal maklik met die mense gesels. Hulle sit agteroor, gebruik baie handgebare en hulle hande is gewoonlik oop. Hulle gesigte is vol emosies en jy kan amper sien wat hulle dink. Mense voel gemaklik om hulle. Innemende mense sal nie sommer ‘n risiko neem nie.

 

Ons laaste groep is die “Ekspresiewe” mense. Die naam alleen sê alreeds baie van hierdie groep. Hierdie groep mense weet wat hulle uit die lewe wil hê. Hulle is ontspanne en het ‘n lewendige oop liggaamshouding. Dit is vir hulle belangrik wat ander mense van hulle dink en sal eie prestasies gebruik om mense te “beïnvloed”. Hulle gesels ook baie maklik. Kompetisie geniet hulle ook baie want dit gee hulle die geleentheid om hulle self as die beste te bewys. ‘n Ander se opinie beteken vir hulle baie en hulle is altyd reg om ‘n kans te vat. Tyd is nie ‘n groot faktor in hulle lewens nie want hulle lewe vir vandag. Hulle gebruik ook baie handgebare en is redelik luidrugtig.

 

Ek het hier net ‘n paar aspekte van elke groep aangeraak. Onthou asb dat 90% van ons in twee groepe kan val. Daar is egter een groep wat sterker sal voorkom. Ook het ek moontlik voorbeelde gebruik wat ‘n bietjie ekstreem is. Kyk asseblief daar verby en identifiseer eerstens jouself en dan jou lewensmaat. Kyk na wat hy / sy nodig het om te reageer en verander jouself om “reg” teenoor hulle op te tree.

 

Onthou asseblief, geen groep is beter as ‘n ander nie! God het ons almal gemaak soos ons is. Die lewe druk ons partykeer in iets wat ons nie wil wees nie. Dit is moontlik om jou omstandighede te verander en oorwinning te behaal as jy weet hoe jy self is. Dit is ook makliker om situasies te hanteer as jy weet hoe ‘n ander persoon gaan optree.

 

Noudat ons ‘n bietjie meer weet van hoe ons is en moontlik ook ons lewensmaats kan klassifiseer, kom ons kyk na hoe ons en die mense om ons liefde ervaar en wat beskou ons as liefde.

 

God sê in 1 Petrus 4:8 “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ‘n menigte sondes bedek.” Om mekaar vurig te kan liefhê moet ons na ons eie persepsies en ervaring van liefde gaan kyk, soos ek gesê het.

 

Hoe ons grootgeword het en dit wat ons ervaar het as liefde, beïnvloed ons idee van wat liefde is. As ek in ‘n huis grootgeword het waar drukkies aan die orde van die dag was of nog is, sal ek ‘n ander gewaarwording van liefde hê as iemand wat nie so grootgeword het nie. Nou gaan ons ‘n huweliksverhouding in met iemand wat anders as ek grootgeword het en liefde op ‘n ander manier ervaar het. Ek wat liefde as drukkies en aanraking aanvaar het word nou geskok as my maat my “wegstoot” as ek hom of haar ‘n drukkie wil gee of sy of haar hand wil vashou as ons in die straat stap. Ek voel verwerp en kruip in my dop in. Hy of sy ervaar dieselfde van my kant af en trek ook terug. Voor ons ons oë uitvee is ons besig om uitmekaar te dryf en doen elkeen sy of haar eie ding.

 

Dit alles omdat ons nie mekaar se idee van liefde verstaan nie. Dit is dieselfde as wat ek ‘n gesprek met ‘n Japanees voer. Ons verstaan mekaar nie. Praat jy miskien Japanees en jou maat Afrikaans, in jou huwelik? Ek en my vrou het!

 

Kom ek verduidelik gou die volgende. Elkeen van ons het ‘n liefdestenk wat op ‘n hoë staander in die wind van die lewe staan (amper soos ‘n watertenk). As hierdie tenk leeg is en ‘n rukwind kom, is my tenk bo van die staander af. So ook met die tenk van my maat en die van my kinders. Is hierdie tenks egter vol, roer hulle nie eers as die wind waai nie. Hulle kan die winde van die lewe trotseer en bo bly.

 

Ék moet egter sorg dat my maat se tenk vol is en hy / sy moet sorg dat my tenk vol is. Dit is baie moeilik om te doen as een Afrikaans en die ander Japanees praat.

 

Kom ons probeer mekaar se taal aanleer en verstaan. Dan is dit baie makliker om sy of haar liefdestenk vol te maak en vol te hou.

 

Daar is vyf hoof liefdestale. Soos met die identifikasie van die groepe hierbo, moet ek met die liefdestale ook eerstens my taal identifiseer en dan die van my maat en kinders.

 

Hoe doen ek dit? Maklik. As jou maat watter een van die volgende doen weet jy dat hy of sy vir jou lief is, sonder dat hy of sy dit sê?

 

Die vyf tale is:

Fisiese aanraking.        Hierdie is nie net seksuele aanraking nie. Ja, dit is ‘n deel daarvan maar dit gaan baie verder. Dit is ‘n drukkie as hy of sy verbystap of jou hand vashou of watter ander aanraking ookal. Jy voel en ervaar sommer sy of haar liefde met die aanraking.

 

Opbouende woorde.   Jy hou daarvan as jou pogings raakgesien, waardeer word en dit vir jou gesê word. Jy voel dat jy as persoon raakgesien word en belangrik is. Nadat so iets vir jou gesê is kan jy ‘n oormag stormloop en oorwin.

 

Kwaliteit tyd.  Jou maat kom sit net by jou en dit is nie eers nodig om te gesels nie. Hy of sy wil net by jou wees en bel jou soms om net te sê hy of sy verlang of mis jou of dink aan jou.

 

Geskenkies.     Jou maat bring vir jou ‘n blommetjie of ‘n kaartjie of sjokolade. Geskenke het nie nodig om groot en duur te wees nie. Dit is nie die prys wat tel nie maar die idee.

 

Diensbaarheid.     Hy of sy verrig takies vir jou sonder dat jy daarna vra. Maak ‘n koppie koffie of tee, was die skottelgoed of sulke goedjies.

 

 

My vriend /vriendin, identifiseer eers jou hoof liefdestaal. Identifiseer dat die van jou maat. As hy of sy bereid is om daaroor te gesels doen dit. Verduidelik dit aan hom of haar en vra wat is sy of haar liefdestaal. As julle dit saam kan doen is dit soveel makliker en sal julle vinnig resultate sien.

 

As jou maat moeilik is en nie hieroor wil gesels nie, identifiseer sy of haar liefdestaal na die beste van jou vermoë. Konsentreer om sy of haar tenk vol te maak. Dit sal moeilik wees in die begin maar onthou jy is tot alles in staat deur Christus wat jou die krag gee. Onthou ook, die liefde oorwin alles.

 

Ons Pa se hart is HERSTELDE VERHOUDINGS. Satan se hart is gebroke verhoudings.

 

Moet asseblief nie satan se leuen glo dat jou huwelik gedoem is en dat jy en jou maat nie aanpasbaar is nie. God het die huwelik ingestel en die geheilig. Dit het Hy gedoen sodat ons nou al ‘n voorsmakie kan hê van hoe ons huwelik met Jesus eendag sal wees. Die satan weet dit en daarom doen hy alles in sy vermoë om ons huwelike te verongeluk.

 

Die woord van God sê in Jakobus 4:7: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sál van julle wegvlug”. Dus, neem jou outoriteit in Jesus op en jaag hom uit jou huwelik en gesinslewe uit.

 

Jy is meer as ‘n oorwinnaar deur Christus Jesus.

 

Cobus van Heerden