‘n Dubbelsinnige Man

‘n Dubbelsinnige Man

 

Jakobus 1:7 Want dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie.”

 

Sommige mense vertrou God om hulle te help sodat hulle hulleself kan help. “Here help hier,” bid hulle. “Ek kan dit doen maar ek het net ‘n stoot nodig om aan die gang te kom.” Hulle vertrou God, maar nie heeltemal nie. Hulle hou nog ander opsies ook oop.

 

Ons ken almal die gesegde: “God help die wat hulleself help.” Die sentiment agter hierdie gesegde is miskien bewonderenswaardig maar die gesegde self is onwaar.

 

Ja, dit is waar dat mens nie net kan rondsit en verwag dat God alles vir jou moet doen terwyl jy self niks doen nie. Die spreekwoord dwaal egter deur nie uit te wys dat God nie díe help wat hulself help nie maar wel díe wat hulpeloos is.

 

Hy is die Verdediger van die weerlose, Hy red die wat vergaan, ondersteun die wat val en tel die wat platgeslaan is op. Hy is ‘n Vader vir die wees, ‘n Vriend van sondaars en die Held vir hulle wat swak is. Paulus som dit op in Rom 5:6 Want toe ons nog swak was, het Christus op die regte tyd vir die goddelose gesterwe.Dit beteken eintlik “toe ons nog hulpeloos was.”

 

Die probleem met “jouself help” terwyl jy God vir ‘n bietjie bystand vra is dat jy nog steeds in beheer bly. Jy hou al die opsies oop. Jak 1:8 sê: so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë.

 

Daar is min dinge meer beledigend vir God as om voor Hom te verskyn terwyl ek nog ander opsies oophou nie, net vir ingeval die “God ding” nie werk nie. Ons lees in Jak 1:6 Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel; want hy wat twyfel, is soos ‘n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

 

Dink terug na wat die Bybel sê waar Petrus op die water geloop het. Die oomblik toe hy vrees en begin sink roep hy uit “Here red my!” Om die krag van híerdie gebed te verstaan, kyk na die volgende. Hy het nie geroep “Here help my” nie. Hy was nie daar dubbelsinnig of dubbelhartig nie. Matt 14:30 “Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!

 

Of wat van Lasarus, die dooie man? Hy het geen opsies gehad nie. Jesus kom staan voor die klip wat Lasarus se graf seel, vra dat dit weg geneem word en roep; “Lasarus, kom uit!” En die dooie man het uitgekom, lewendig.

Joh 11:43 & 44 En nadat Hy dit gesê het, het Hy met ‘n groot stem geroep: Lasarus, kom uit! En die oorledene het uitgekom, aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ‘n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.‘n Groot deel van hierdie gebeure is opgesom in die naam Lasarus. Dit beteken – sonder hulp! Weereens, God help die hulpelose.

 

Soos die sinkende Petrus en die dooie Lasrus in die koue graf, sal ek en jy nie geroep word om in ‘n nuwe, dieper, lewende, wonderlike verhouding met Jesus te gaan nie voordat ons besef dat ons werklik geen ander opsie as God het nie.

 

Die dubbelsinnige en dubbelhartige sal probeer swem maar uiteindelik sal sy eie krag ingee en hy sal ondergaan. Die man of vrou van geloof sal egter op die water loop in gemeenskap met Jesus.

 

Die gaan oor ‘n keuse, ‘n besluit. Kyk gerus na Abram en Lot. Daar was ‘n besluit wat geneem moes word toe hulle skei. Lees gerus Gen 13:8 – 11Toe sê Abram vir Lot: Laat daar tog geen twis wees tussen my en jou, en tussen my wagters en jou wagters nie; ons is mos broers. Lê die hele land nie voor jou oop nie? Skei jou tog van my af; gaan jy links, dan sal ek regs gaan, en gaan jy regs, dan sal ek links gaan. Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland. En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste weggetrek. So het hulle dan die een van die ander geskei.”

 

Kom ons kyk na die keuse wat Lot geneem het. Hy was ‘n man met skape, bokke en beeste. Hy het mense gehad wat vir hom gewerk het, mense waarvoor hy moes sorg. Hy kyk uit oor die Jordaansteek en sien alles wat hy nodig het om suksesvol te wees, weiding en water vir sy diere, twee stede as markte vir sy produkte, genoeg mense om die produkte te koop, veilige verblyf in die stede vir hom en almal saam met hom. Hy neem ‘n besluit – die Jordaanstreek! Was hierdie keuse van Lot ‘n goeie keuse? Ja! Was dit die regte ekonomiese keuse? Verseker ja! Was dit die regte keuse uit ‘n veiligheids oogpunt? Ja dit was! Lot was oortuig dat hy die regte keuse gemaak het ek gaan die Jordaanstreek binne, as ‘n ryk man.

 

Die vraag is egter? Was dit God se keuse? Was dit God se besluit? Nee!! Daarom het Lot alles verloor en kon net hy en sy twee dogters ontvlug toe die wraak van God op die gebied neerdaal.

 

My liewe vriend en vriendin, lê jou besluite en keuses aan God voor. Vra Hom wat Sy keuse is. Moet nie dubbehartig voor Hom staan nie. Verskyn voor Hom, jou ABBA VADER, en jy as Sy kind en vra Sy hulp!

 

“ABBA Vader, ek kom staan vandag voor U as U kind. Ek lê al my besluite en keuses voor U neer. Vergewe my as ek nog versteekte agendas gehad het. Vader help my asseblief en wys my U planne. Help my deur die Heilige Gees om U plan te volg. In Jesus naam vra ek dit. Amen.”