‘n Kaal Man met Bevoeterde Houding

‘n Kaal Man met Bevoeterde Houding

 

Markus 5:19 “…Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.

 

Die gebeure rondom die besetene in die land van die Gadarenérs spoel deur ons gedagtes met beide geheimsinnigheid en ontsag. Die bonatuurlike verlossing en verandering in sy lewe bemoedig en inspireer ons met hoop in alle dinge.

 

Niemand dink dat hy of sy moontlik die monster in die duister waarvoor die kinders bang is, die trol onder die brug, die “ogre” in die grot of die draak in die meer kan wees nie. Dit is egter wat die naamlose Gardanérer geword het. Hy was die besetene wat tussen die grafte gewoon het. Díe monster vir wie mense bang was.

 

Ons word nie vertel van hoe hy in hierdie bejammerings waardige toestand verval het nie, maar ons het voorste ry sitplekke by sy Goddelike verlossing. Ons weet dat hy oor ‘n periode van drie jaar ‘n onmenslike bestaan gehad het – naak, vertoornd, self beserend en vreesaanjaend teenoor almal wat hom genader het.

 

Die dag van sy dramatiese verlossing het gekom nadat Jesus Christus die see oorgesteek het vanaf Tibérias, met die missie om sy eensame en verlore siel te red. Daar het ‘n groot storm oor die see opgekom in ‘n poging om die skuit om te slaan en die sending te stop. Jesus het die wind bestraf en dit het gaan lê.

 

Markus 4:35 – 41 En toe dit aand geword het op daardie dag, het Hy vir hulle gesê: Laat ons oorvaar na die ander kant. En hulle het die skare verlaat en Hom, net soos Hy was, saamgeneem in die skuit; en daar was ook ander skuitjies by Hom. En ‘n groot stormwind het opgekom, en die golwe het in die skuit geslaan, sodat dit al vol wou word. Maar Hy was agter op die skuit aan die slaap op die kussing. En hulle het Hom wakker gemaak en vir Hom gesê: Meester, gee U nie om dat ons vergaan nie? En Hy het opgestaan en die wind bestraf en vir die see gesê: Swyg, wees stil! En die wind het gaan lê, en daar het ‘n groot stilte gekom. Toe sê Hy vir hulle: Waarom is julle so bang? Hoe het julle dan geen geloof nie? En ‘n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is!

 

Sô kan dit ook met ons wees, op ons pad om of ‘n wonderwerk te aanskou of om ‘n wonderwerk te doen in die Naam van Jesus Christus. Net soos Jesus opgestaan en beheer oor die situasie geneem het, moet ons ook doen. Moet nie afgetrek word van jou missie nie!

 

Aan land gekom het die demone op Jesus geskreeu en gevra dat Hy hulle moet uitlos. Hy het nie aan hulle versoek voldoen nie, inteendeel Hy het hulle in ‘n trop varke laat ingaan, wat oor die afgrond gehardloop, in die see geval en versuip het. Skielik het daar vrede oor die besete man gekom en hy is verlos.

 

Die verhaal eindig waar die man sit, gekleed en by sy volle verstand. Dan beveel Jesus hom om na die stad waarvandaan hy kom, terug te gaan en te vertel wat Jesus vir hom gedoen het.

 

Die vraag is dit: Indien Jesus hierdie man uit sô ‘n diep put van duisternis kon verlos en deurneem na die krag in die Koninkryk van God, wat kan Hy met jóu doen??

 

Gebed: “Here Jesus. Vandag wil ek ook verlossing en genesing hê van alles wat nie reg is in my lewe nie. Help my ook om nie afgetrek te word vanaf my missie nie en om in U outoriteit te staan. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.”