Onskuldig as gevolg van Logika?

ONSKULDIG AS GEVOLG VAN LOGIKA?

 

In Mei 2015 het die 23 – jarige Dominyk Antonio Alfonseca by ‘n bank in Virginia Strand, VSA ingestap en ‘n nota, waarin hy geld eis, aan die kassier oorhandig. So wat 20 minute na die roof het die polisie Alfonseca opgespoor en in hegtenis geneem.

 

Tydens ‘n onderhoud, in die tronk, met ‘n joernalis het Alfonseca gesê dat hy nie regtig die bank beroof het nie maar slegs vir geld gevra het. “Ek weet nie hoe ek ‘n bankrower kan wees nie want ek het net gevra. Die kassier kon geweier het en dan sou ek loop. Ek beskou dit nie as ‘n roof nie. Volgens die wet kan ek skuldig wees maar volgens my logika is ek nie. Ek voel dat ek onskuldig is as gevolg van logika” het hy gesê.

 

Die hof het duidelik nie die argument van “onskuldig as gevolg van logika” aanvaar nie en het hom skuldig bevind aan bankroof.

 

Ons mag die argument amusant en komies vind. Hoeveel keer hoor ons van mense wat dieselfde argument gebruik, ook ons self, om hulle te verontskuldig.

 

Wat ek doen is nie so erg as wat hy/sy doen nie.

Iemand het my dit laat doen.

Dit is my ouers se skuld as gevolg van hoe hulle my groot gemaak het.

Die samelewing of televisie of video speletjies het my beïnvloed.

Ek was dronk of bedwelmd toe ek dit gedoen het en daarom is ek nie verantwoordelik vir my dade nie.

 

“Volgens die wet van God kan ek skuldig weer MAAR ek voel ek is onskuldig.”

 

GOD het nog nooit rasionalisasie aanvaar nie. HY het dit nie vanaf Adam aanvaar toe hy gesê het dat Eva hom dit laat doen het nie. HY het dit ook nie van Aaron aanvaar toe hy gesê het dat hy die goud in die vuur gegooi en die kalf daaruit gekom het nie. Eksodus 32:21 – 24 “En Moses het vir Aäron gesê: Wat het hierdie volk jou gedoen, dat jy so ‘n groot sonde oor hulle gebring het? Toe antwoord Aäron: Laat die toorn van my heer nie ontvlam nie. U self ken die volk, dat hulle deur en deur sleg is. Hulle het dan aan my gesê: Maak vir ons gode wat voor ons uit trek, want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. Daarop het ek hulle geantwoord: Wie goud het, laat dié dit afruk! En hulle het dit aan my gegee. En ek het dit in die vuur gegooi, en hierdie kalf het daaruit gekom.”

 

Net so sal GOD dit ook nie van my en jou aanvaar nie. God soek nie veroordeling nie. Wat Hy begeer is rekonsiliasie. HY weet dat die enigste manier is tot rekonsiliasie is as ons alle verskonings en argumente laat vaar en net eerlik wees oor ons sonde.

 

In 1 Johannes 1:8 & 9 is geskrywe: As ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself en die waarheid is nie in ons nie. As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.”

 

Nou wat is sonde? Is dit om te drink, rond te slaap, te lieg, te rook, ens. Om te weet wat sonde is moet ons die Bybel lees. In 2 Timótheüs 3:16 & 17 sê: Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”

 

Die hele skrif beteken die hele Bybel, die Ou en Nuwe Testament.

 

Sonde is enige dade of woorde of denke wat nie in lyn met God se Woord is nie. Romeine 14:23 “…en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.”

 

Ongeag van hoe ek voel deur my logika, is ons almal skuldig aan die verbreking van die wet van God, wat op die tafels van ons harte geskryf is. Die gouer wat ons dit erken, die gouer sal rekonsiliasie plaasvind.

 

Hemelse Vader. Ek kom vandag voor U in die naam van Jesus Christus. Ek erken vandag date k skuldig is en U wet oortree het asook U manier om dinge te doen. Ek aanvaar volle verantwoordelikheid vir my keuses en dade en vra U vergifnis.Help my asseblief om die gevolge van my keuses te hanteer volgens U weë en riglyne.Vervul my asseblief opnuut met U Heilige Gees. Ek kies om van vandag af nie meer volgens my of ander se opinies te leef nie maar om op die waarheid van U Woord te staan.Ek bid dit in die naam van Jesus Christus, my Verlosser. AMEN.”