Verhouding

VERHOUDING OF verhouding

 

My liewe vriend / vriendin,

 

Vrede vir jou en jou gesin.

 

Kan ek jou sommer in die begin ‘n reguit vraag vra? Ervaar jy die vrede waarmee ek jou groet, werklik in jou hart, in jou huislike lewe en in jou werksplek?

 

Die groet van vrede beteken volgens Lukas 10:5 die verlossing en bevryding van ALLE ellende of smart wat die nagevolg van sonde is.

 

Een van die areas in ons lewens waar ons almal die ellende of smart ervaar en baie keer vertroetel, is in ons verhoudings lewe. My verhouding met my vrou / man, my kinders, my ouers en skoonouers, nog erger my verhouding met GOD en my verhouding met myself.

 

My verhouding met my lewensmaat, kinders en ouers is sigbaar vir die mense om ons, So baie keer hou ons ‘n front voor en ons dink ons “bluff” almal om ons. My verhouding met GOD en met myself is egter net sigbaar vir myself.

 

My vehouding met GOD skuif ek baie keer onder ‘n sluier in en probeer myself “bluff” om te maak soos ‘n volstruis deur my kop in die sand weg te steek en te dink dat GOD my nie raak sien nie. Weet jy, Adam en Eva was die eerste mense wat dit probeer het. Hulle kon dit nie reg kry nie en ek en jy sal ook nie.

 

Kom ons gesels ‘n bietjie oor ons verhouding met onsself. Ek weet dat al ons verhoudingsprobleme se oorsaak hier lê. Hierdie is ook die area wat ek/jy dink dat net ek/jy daarvan weet. Hoe voel jy oor jouself? Dink jy dat jy maar net bestaan en nie goed genoeg vir enigiets is nie? Is jy minderwaardig teenoor ander? Dink jy dat jy ‘n mislukking is en dat GOD dink dat jy niks werd is nie? Voel jy nie goed genoeg om vir jou gesin te sorg nie? Dink jy dat dit net jou skuld is dat jou huwelik misluk het en ry die skuldgevoel jou nog steeds? Het jy geen doel meer in die lewe nie en “wens” jy dat jy liewer kan sterf?

 

Weet jy, hoe jy oor jouself voel en hoe jou verhouding met jouself is sal bepaal hoe jou verhouding met GOD, jou lewensmaat, kinders, ouers en die mense om jou sal wees.

 

Jy moet soos ‘n verkoopsman jouself aan jouself verkoop. Dink maar terug aan wanneer jy laas ‘n tweedehandse motor gekoop het. Die oomblik toe jy besluit het om die motor te koop, het jy nie meer die skrapies, duike en ander foute raakgesien nie. Niemand moes eers jou motor kritiseer nie! Is dit nie waar nie? Ek vra jou: “Wanneer gaan jy besluit om jouself te koop?” Die oomblik as jy die besluit neem sal jy weer voor die spieel kan staan en jouself in die oë kan kyk en sê “Jou pragtige, wonderlike mens, wat ‘n voorreg is dit nie om myself te kan wees nie. Dit is ‘n eer om as myself die lewe in te gaan. Ek is uniek en PA het my kunstig aanmekaar geweef.”

 

Sê jy dat dit ydelheid is? Kom ons kyk na wat GOD van jou dink:

 

GOD het die mens geskape in SY beeld en in SY gelykenis. Dit beteken jy is ‘n volmaakte kopie van GOD. Kom ons kyk net na ‘n paar van die baie ooreenkomste tussen GOD en jouself.

 

God is drie-enig en jy is drie-enig – gees siel en liggaam (1 Tescalonisense 5:23)

 

GOD kan skep en jy kan skep. Deur jou optrede, woorde en dade kan jy situasies skep en manipuleer. Jy kan dinge skep en tot stand bring met jou verstand en gegewe talente. Kyk maar na die geboue, motors, sake ondernemings, ens.

 

GOD regeer en HY gee die opdrag aan jou om te regeer. Openbaring 1:6.

 

Die Bybel is vol van hierdie ooreenkomste. Doen die moeite en gaan op ‘n ontdekkings reis oor jouself.

 

GOD vertrou die mens soveel dat HY SY volle gesag en outoriteit op aarde aan die mens oorhandig in Genesis 1:28. Ja, satan het dit kom steel met die sondeval maar prys die HERE; JESUS het dit terug gevat met SY sterwe en opstanding uit die dood.

 

Kom ons gaan net terug na die sondeval en ek praat met jóú wat onder die indruk is, of voor gesê is dat Eva die oorsaak van die sondeval is. As jy gaan lees in Genesis 3 waar die sondeval beskryf word en jy kyk na vers 17. Daar het GOD klaar met die slang en Eva gepraat en HY sê aan Adam (die man): “Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan EK jou beveel het om nie te eet nie – vervloek is die aarde om jou ontwil;” Soos ek dit hier lees het die gevolge eers gekom nadat Adam van die vrug geëet het. Hoekom so? Lees asb Kolossense 3:18 waar die HERE sê dat die vrou die man onderdanig moet wees. Ons sal netnou terugkom na die ‘onderdanigheid’. GOD het die man as hoof van die huis aangestel. Adam het nie sy Godgegewe outoriteit opgeneem toe Eva hom van die vrug gee nie. As hy in sy Goddelike gesag bly staan het en nie geëet het nie, sou ons vandag nog in die paradys wees. Ek lees ook nie dat GOD die mens vervloek het nie. Moet asb nie deur die lewe gaan asof daar ‘n vloek van GOD oor jou is nie.

 

Kom ons kyk na die ‘onderdanigheid’ van die vrou teenoor die man. In Genesis 1:27 het GOD die mens gemaak. Man en vrou het HY hulle gemaak. In vers 28 staan daar: “En GOD het hulle gesëen en vir hulle gesê; Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers ……. “ Hierdie opdrag is duidelik aan albei gegee en albei het in ‘n gelyke stand voor GOD gestaan. Geen onderskeid is tussen man en vrou gemaak nie. Nou waar kom onderdanigheid nou is? Kom ons kyk weer na Genesis 3 hierbo. GOD het Adam verantwoordelik gehou vir Eva se optrede en het rekenskap van hom geëis. Dit sê dat die finale verantwoordelikheid, in die huwelik, teenoor GOD by die man lê.

 

Die man oorskry sy gesag as hy sy vrou as ‘n ondergeskikte behandel want GOD het albei as gelykes geskape. Kolossense 3:19 sê: “Manne julle moet julle vroue liefhê en nie teenoor hulle verbitter word nie” Let wel: Daar is geen voorwaardes vir die liefde gestel en ook geen uitsonderings gegee waar ons verbitterd mag wees nie.

 

Aan die vrou word in vers 18 gesê: “Vroue, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die HERE.” Ondersteun hom in sy besluite en staan hom by. Verskil van hom maar op so‘n manier dat julle liefde verdiep sal word.

 

Aan albei wil ek sê. GOD ag die huwelik baie hoog en HY respekteer eenheid. HY sê in die Bybel dat die man sy ouers sal verlaat, sy vrou sal aankleef en dat hulle een sal wees. Dit beteken ook dat die vrou ook haar ouers sal verlaat, haar man sal aankleef en dat hulle een sal wees. Julle as lewenspaar staan as een voor GOD en GOD sal julle eenheid sëen.

 

Verder sê Kolossense dat kinders hulle ouers moet gehoorsaam wees. As ons as ouerpaar in eenheid is, sal ons uit ‘n gesags posisie teenoor ons kinders optree. Hulle sal weet waar hulle in die gesinslewe staan en sal aan die opdrag voldoen. Hulle aanvaarding van gesag lê egter by ons hantering daarvan en optrede teenoor mekaar.

 

Verder sê GOD ook in die tien gebooie: “Eer jou vader en jou moeder, sodat jou dae verleng mag word” Hoe hanteer ons ons ouers en skoonouers. Onthou GOD sien man en vrou in die huwelik as een, en as ons een is, is my skoon ouers ook my ouers. Hoeveel van ons ouers weet nie eers waar ons, hulle kinders is nie. Hoeveel is in tehuise gestop en daar vergeet vir gerieflikheidshalwe. Ja jy kan sê dat ek nie jou ouers ken nie. Dat hulle so of sus is of optree. Ek, nee GOD, vra jou net een vraag. Eer jy jou ouers soos EK van jou verwag? …….. Kom ons gaan maak reg wat verkeerd is en kom ons neem die eerste aksie. Hoe weet jy of jou pa of ma nie al smag daarna om net jou stem te hoor of jou te sien nie?

 

Ons verhoudingslewe kan omswaai na dit wat GOD beplan het. SY planne en verwagtings vir ons het nog nie verander nie en dit sal ook nie. HY het dit bewys deur SY seun JESUS die volle prys, vir ons herstel na SY oorspronklike plan, te laat betaal. Ons moet die prys wat JESUS reeds betaal het, persoonlik aanvaar en self begin om die skade, wat ons aangerig het, aan mense om ons en aan ons self te herstel. HEILIGE GEES is gestuur met die opdrag om ons hierin te help. Moenie bang wees om na jou vrou / man te gaan en om verskoning te vra nie. Ook nie om dinge reg te maak met jou kinders en ouers nie.

 

Daar is daar egter iets wat kan keer om dinge te gaan regmaak, en dit is bitterheid. As ons bitterheid in ons rond dra sal dit HEILIGE GEES se werking baie belemmer. Bitterheid gaan hand aan hand met onvergewens gesindheid. Doen asseblief ‘n diepe selfondersoek en kyk of jy met bitterheid sit en bring dit na GOD toe. Weet jy, JESUS het ook daarmee aan die kruis gesterf maar HY het daarsonder uit die graf opgestaan.

 

Bitterheid gaan verder ook hand aan hand met trots en hoogmoed en verhoed ook nederigheid. Nederigheid is nie soos ons baie keer daaraan dink as ‘askies dat ek lewe’ nie. Kyk weereens na JESUS. HY was KONING maar tog nederig. HY wou nie eerste wees nie, maar was tevrede om die minste te wees. Kom ons wees die minste, soos JESUS die minste was en SY dissipels se voete gewas het. JESUS sê self: “Wie laaste is sal eerste wees en wie die minste is sal die meeste geag word by MY VADER.” Sodra ons onsself begin liefkry met GOD se liefde, sal ons ook ons medemens kan liefhê met SY liefde.

 

My vriend / vriendin, bitterheid, onvergewensgesindheid, trots en hoogmoed is dinge wat satan gebruik om ons mee vas te maak. Omdat JESUS gesterf en opgestaan het, het ons nie nodig om verder daaronder gebuk te gaan nie. HY het gekom as ons verlosser en wil ons verlos van al hierdie laste. Die keuse is egter by jou. Wil jy werklik daarvan ontslae raak of wil jy dit nog verder vertroetel? Weet jy, GOD is so ‘n “gentleman” dat hy jou nooit sal dwing om iets te doen nie. Selfs nie om jou seer, pyn, siekte, bitterheid of wat ook al na HOM te bring nie. Jy moet in jou hart wil om dit te doen. As jy dit egter doen, sal HY jou daarvan losmaak en jy sal vry wees. HY sê in SY ord: “As die SEUN jou vrygemaak het sal jy werklik vry wees”. (Johannes 8:36)

 

Hierna wil ek graag vir jou ‘n gebed bid en VADER vra dat HY aan jou ware verlossing sal skenk. Dit is vir elkeen van ons beskore want GOD trek nie die een voor die ander nie.

 

As jy voel dat jy verder wil gesels sal ek dit waardeer as jy met my sal kontak maak.

 

Verlossing, bevryding en ‘n lewe in, en van, oorvloed is vir jóú beskore. Nou en hier op aarde!!! Die keuse bly egter by jou.

 

“Vader ek vra U in die naam van JESUS dat U elkeen wat hierdie brief lees sal aanraak en sal help deur HEILIGE GEES om te gaan regmaak. Eerstens sy/haar verhouding met U. Dat elkeen sal besef hoe innig U elke mens liefhet en watter prys U betaal het om ons terug te kry. Here, dat elkeen sal besef dat U nie nikswerd gemors gemaak het nie, maar dat U nadat U die mens gemaak het, as metgesel vir U self, hom gesëen het en met verwondering na U skepsel gekyk het. HERE dat U reeds voordat U die mens gemaak het, geweet het wat elkeen van ons sou doen wat verkeerd was en ook dat JESUS sou moes sterf, maar dat dit ‘n prys was wat U bereid was om te betaal. Dankie VADER dat dit die voorbeeld kan wees van hoe ons onsself moet liefhê en ook die mense om ons.

HERE waar party van ons moet gaan verskoning en vergifnis vra by mense, familie en ander, dat U reeds in daardie persone se harte sal werk en hulle ontvanklik sal maak. VADER ek vra U ook dat u elkeen sal losmaak van die herinnerings aan die seer wat ons gekry en veroorsaak het. Dat U asseblief die sere en letsels sal bedek met die bloed van JESUS sodat ons rein voor U kan staan. VADER, dankie dat U verstaan hoe ons opgetree het en ons vra U leiding en hulp vir ons verdere lewe. Vergewe ons asseblief vir dit wat ons gesondig het en ons vergewe nou ook die wat teenoor ons verkeerd gedoen het.

HERE ek wil vra dat U, ons wat nie liefde kan gee of ontvang omdat ons aardse pa ook nie geweet het hoe om liefde te gee of ontvang nie, sal losmaak van hierdie diepe seer. HERE dat U voor elkeen van ons sal kom staan en ons op U skoot sal tel en U arms om ons sal vou. VADER dat ons sal weet dat U ons ware PA is en dat U ons nooit sal seer maak nie. Dat U sê welkom terug my kind. EK sal jou nooit verlaat nie. HERE dat u my sal help om my pa en ma te vergewe. Hulle het hard groot geword en het baie keer ook nie geweet hoe om te maak nie en het dan gaan wegkruip agter hoe hulle groot gemaak is. Help my asb om hulle volkome te vergewe en om my arms om hulle te slaan en te kan sê: Pa / ma, ek is lief vir jou. Ek vergewe jou en spreek jou vry. Vergewe my ook asseblief. Dankie HERE vir die krag van gebed en dat U dit aan ons gegee het. Ek vra dit alles van U, in die naam van JESUS.   Amen”

 

My liewe vriend / vriendin, gaan in die vrede van die HERE.

 

Liefde in JESUS naam.

 

Cobus van Heerden