Vertrou GOD

VERTROU GOD

 

Hab 3:17 – 19 Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nienogtans sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil. Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes. Vir die musiekleier op snaarinstrumente.”

 

Elkeen van ons besef dat ons in moeilike tye leef. Die ekonomie is styf, finansies druk, daar is bekommernis oor die toekoms en oor veiligheid, ens, ens, ens. Ons kan baie vinnig ‘n lang lys maak oor hierdie tyd. Verder lees ek in die Bybel oor die eindtye en wat vooraf moet gebeur, en dit sien ek om my gebeur. Ek kyk na organisasies en kerke wat aksies beplan om te bid dat God ingryp en die situasie en omstandighede verander. Duisende op duisende mense woon byeenkomste by om Vader se aangesig te soek. Party is werklik ernstig hierin en ander gaan maar net om te kan sê: “Ek was ook daar.” Hoe ernstig en suiwer elkeen se bedoeling en lewe is sal hy of sy self voor God moet bely. Baie predikers en kerke verkondig teenstrydige boodskappe, wat hulle uit die Bybel regverdig. Dit laat mense stry en baklei en baie word mislei. Daarom is dit UITERS BELANGRIK in hierdie tyd om ag te gee op Efes 4:12 – 15 om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus,”. Daar is juis soveel dwaling omdat ons nie Skrifte ken en ook nie die krag van God nie. Mag die Heilige Gees jou dryf om self jou skrifte te ondersoek en die krag van God te ontvang.

 

Kom ons gaan terug na Hábakuk. Die Here praat hier van misoeste, geen bloeisels aan die vyeboom nie, geen vrug aan die wingerdstokke nie, teleurstellende drag aan die olyfboom, geen oes op die saailand nie, kleinvee wat uit die kraal gesteel word en geen beeste in die stal nie. In ons eie lewens het ons ook misoeste, toekomsplanne wat verydel word, finansies wat tot op die uiterste gerek word en inmekaar val. Huwelike wat deur moeilike tye gaan en soveel wat in die skeihof eindig. Hoop en vertroue wat verydel. Kinders wat teen ouers rebelleer en soveel wat in verslawings vasgehou word. Soveel veroordeling en verdoemmenis van mense. Elkeen van ons kan hiervan getuig, kyk maar net terug in jou eie lewe.

 

Nou het ek ‘n keuse! Ek kan heeltyd terugkyk na die misoeste in my lewe OF ek kan vorentoe kyk en staan op God se woord! In die boonste gedeelte lees ek nie dat dit net met my goed sal gaan nie. Daar sal moeilike en beproewende tye wees. Die vraag is egter, Hoe gaan ek dit hanteer? Hab 3:18 NOGTANS sal ek jubel in die HERE, ek sal juig in die God van my heil.Nogtans beteken ook TEN SPYTE VAN! Sal ek jubbel in die Here. Ps 9:15 sê: sodat ek al u roemryke dade kan vertel, in die poorte van die dogter van Sion kan juig oor u heil. So in moeilike tye het ek die keuse om te praat oor God se roemryke dade. Verder sê Ps 13:6 Maar ek – op u goedertierenheid vertrou ek; my hart sal juig oor u heil. Ek wil sing tot eer van die HERE, omdat Hy aan my goed gedoen het.” Hier lees ek van vertroue op God. Dit is net hier waar soveel van ons struikel en te kort skiet. Hoe vêr vertrou ek God. Dit is nie so maklik om nog steeds onvoorwaardelik op Hom te vertrou as dit moeilik gaan nie. Hier het ons die Heilige Gees nodig om ons te help. Slegs met Sy hulp kan ons uitkom by

Luk 1:46 & 47 “…My siel maak die Here groot, en my gees is verheug in God, my Saligmaker;”.

 

Hab 3:19 “Die HERE Here is my sterkte, en Hy maak my voete soos dié van herte, en Hy laat my tree op my hoogtes.” Hierdie is die belofte van God. Om die belofte te verkry moet ek ook op Hom vertrou en Sy lof besing, ek moet groei in Christus, ek moet die hoogtes begin klim, so ek moet begin doen. Dan lees ek in Deut 33:29 Welgeluksalig is jy, o Israel! Wie is soos jy? ‘n Volk wat deur die HERE verlos is, die skild van jou hulp en wat die swaard van jou hoogheid is, sodat jou vyande julle al kruipende aan jou onderwerp; maar jy sal op hulle hoogtes stap.” Wat ‘n vooruitsig! Die oorwinning oor my misoeste en ook situasies.

 

“Here Jesus, help my asseblief deur die Heilige Gees om onvoorwaardelik op U te vertou en ook om te groei in U woord. Ek wil die Skrifte ken asook die Krag van God. Amen.”